(Website Updated 11 Mei 2012)




LATEST NEWS 



Centurion Stoei Gimnasium Nuus - Die klub van kampioene:
Graag gee ons bietjie terugvoer oor die uitdaging en nuwighede waarmee CSG die afgelope tyd moes deel. Dit is vir ons, veral CSG bestuur en die ouer garde, baie verblydend om die hernude motivering en vars bries in die klub waar te neem. Die uitdaging is nog nie verby nie, maar ons is ontsettend opgewonde oor die positiwiteit en die tipe benadering wat besig is om in die klub te manifesteer. Ons nuwe afrigter, Neels en sy hulp op die matte is `n absolute aanwins vir die klub en `n soliede fondasie word nou gevestig om CSG net tot hoër hoogtes te neem. CSG bestuur is ten volle toegewy om klub sake te hanteer tot voordeel van ons kinders en die gesondheid van die klub in die algemeen.
Ons wil u nooi om saam met CSG bestuur deel te raak van hierdie proses en in alle aspekte betrokke te raak. Ons is almal hier vir die liefde van die sport en vir ons kinders - elke bestuurslid het `n kind wat stoei en is in effek ook maar net `n ouer wat bereid is om bietjie tyd op te offer en positiewe insette te lewer. Ons sal altyd beamptes nodig hê. Ons sal altyd admin beamptes nodig hê. Ons sal altyd `n helpende hand op die mat waardeer. Ons sal enige hulp, van die snoepie regdeur tot onderhoud van die fasiliteite waardeer.
CSG is `n nie winsgewende sport klub en die sukses hang af van die betrokkenheid van die ouers. Ons is die grootste klub in die land met die meeste stoeiers geregistreer en dit verg heelwat samewerking om alles vlot te laat verloop. Ons as bestuur vra u bedagsaamheid as ons hier en daar ietsie agterwee laat. Terwyl ons na perfeksie streef, het ons almal `n ander offisiële werk wat ons ook maar besig hou.
`n Pleidooi gaan uit na al ons ouers om betrokke te raak en te verstaan wat die werkinge van die klub behels. Kom vat hande saam met ons en kyk hoe ons kinders ontwikkel en groei in `n pragtige sport wat soveel voordele vir u kind inhou en verseker `n mentaliteit van volharding kweek, want stoei is `n lang termyn sport en ons kinders werk hard op die matte. Ondersteun die kinders en moenie sommer net die handdoek ingooi as daar nie onmiddelik resultate gesien word nie.
As u enige navrae het oor hoe u betrokke kan raak by klubsake, stuur asseblief `n email na ons sekretaris, Abel Jordaan, by die vlge email adres: sekretaris@centurionwrestling.co.za
Groete
CSG Bestuur
Webwerf Boodskap aan al ons lojale besoekers
CSG het `n baie suksesvolle periode geniet met die bestaande webwerf sover nuwe inligting aangaan, kommunikasie na ons ouers en die stoei gemeenskap in die breë. Dit is `n voldwonge feit dat CSG die pas aangevoer het sover dit Internet teenwoordigheid en volledigheid van die Suid Afrikaanse stoeigemeenskap aangegaan het.
Dit is so dat tegnologie met rasse skrede verbeter en dit het ook `n impak op ons bestaande webwerf. Die pakket en platform waarop hierdie webwerf gebou is het van so aard ver-ouderd dat ons noodgedwonge na `n nuwe stelsel moet kyk. Die webwerf het ontsettend stadig begin raak beide vir die administrateurs en besoekers.
Eerste stappe is geneem en eksperimentasie met `n nuwe pakket en platform is geneem wat op hierdie stadium ge-evalueer word in terme van inhoud, gemak van onderhoud en betroubaarheid.
Ons sal u op hoogte hou van die vordering met die nuwe webwerf, kom loer gerus elke nou en dan vir die terugvoer.
In die intussentyd kan u toernooi uitnodigings en uitslae op Noord-Gauteng se webwerf kry. www.gnwrestling.co.za